World Series (bofbal)

Die "Commissioner's Trophy" (kommissaristrofee)

Die World Series (Afrikaans: Wêreldreeks) is die jaarlikse finale kampioenskapsreeks van Major League Baseball (MLB) in die Verenigde State en Kanada. Dit word tradisioneel in Oktobermaand gespeel, hoewel onlangse reekse in November gehou is weens uitgebreide uitspeel wedstryde en/of vertragings. Die kampioenspanne van die "American League" (Afr: Amerikaanse liga [AL]) en die "National League" (Afr: Nasionale liga [NL]) ding sedert 1903 om die titel mee. Die wenner van die "World Series" word bepaal by wyse van 'n beste-van-sewe uitspeelstryd, en die kampioenspan ontvang die "Commissioner's Trophy.[1]

Voordat die AL en die NL in 1969 in divisies verdeel is het die span met die beste wen-verloor rekord uit elke afsonderlike liga (die voorgenoemde AL en NL) outomaties die liga se wimpel gewen en na die uitspeelstryd (World Series) deurgedring, met die uitsondering van die seldsame gelykopuitslag wat 'n wimpel-uitspeelronde noodsaak.

Sedertdien hou elke liga 'n ligakampioenskapreeks (American League Championship Series, Afr: Amerikaanse liga kampioenskapsreeks [ALCS] en National League Championship Series, Afr: Nasionale liga kampioenskapsreeks [NLCS]) wat die Wêreldreeks voorafgaan, om te bepaal watter spanne deurdring.

Die ligakampioenskapsreekse van elke liga word sedert 1995 voorafgegaan deur 'n divisiereeks (American League Division Series, Afr: Amerikaanse liga divisiereeks [ALDS] en National League Division Series, Afr: Nasionale liga divisiereeks [NLDS]), en sedert 2012 ook "Wild Card"-wedstryde of -reekse in elke liga.

Tot 2002 het die tuisveldvoordeel in die Wêreldreeks van jaar tot jaar gewissel tussen die AL en NL. Van 2003 tot 2016 is tuisveldvoordeel gegee aan die liga wat daardie jaar se All-Star-wedstryd gewen het. Vanaf 2017 word tuisveldvoordeel toegeken aan die ligakampioenspan met die beter wen-verloor rekord tydens die normale seisoen, ongeag daardie span se keuring in die vroeëre uitspeelrondes (d.w.s. 'n "Wild Card"-span in een liga sal tuisveldvoordeel hê oor 'n divisiewenner in die ander liga indien die "Wild Card"-span 'n beter rekord gehad het of die prosedure gedurende 'n gelykop-situasie wen).

Daar is met ingang van die 2023-seisoen reeds 119 kere meegeding om die Wêreldreeks, met Amerikaanse liga spanne wat 68 keer getriomfeer het, en Nasionale liga spanne wat 51 keer gewen het. Die Wêreldreeks word somtyds na verwys as die Fall Classic, omdat dit tydens die herfsseisoen in Noord-Amerika gespeel word.[2]

  1. "World Series trophy profile". New York: MLB Advanced Media. 27 Oktober 2015. Besoek op 25 Augustus 2019.
  2. Enders, Eric (2007). The Fall Classic: The Definitive History of the World Series. Sterling Publishing Company. ISBN 978-1-4027-4770-0., et al.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne